Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 29 SEPTEMBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

BESPREEK NOU VIR RTA IN KAAPSTAD

SARL LOODS OPSTELKOMPETISIE VIR JEUG

SONSIKLUSRAAISELS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

BESPREEK NOU VIR RTA IN KAAPSTAD

Daar is slegs ‘n paar dae oor om vir die RTA in Kaapstad teen die laer tarief te bespreek. Vanaf Woensdag verhoog die tarief vir lede na R100 en vir nie-lede na R150.

Die Radiotegnologie in Aksie Simposium wat op 5 Oktober in Bellville aangebied word is die laaste van die 2013 reeks. Besoek www.sarl.org.za en volg die skakels vanaf die tuisblad se nuusafdeling. Dit is ook moontlik om die status van jou bespreking vandaar te kontroleer. Besprekings sluit op Woensdag 2 Oktober van wanneer dit slegs moontlik sal wees om teen ‘n aansienlik groter koste ‘n instapregistrasie te doen.

SARL LOODS OPSTELKOMPETISIE VIR JEUG

As deel van die Jeug in Amateurradio Week wat van 10 – 15 Februarie 2014 plaasvind loods die SARL ‘n opstelkompetisie met die tittel: “Amateurradio, jou toegang tot ‘n loopbaan in ingenieurswese en wetenskap”.

Jongmense onder die ouderdom van 20 word aangemoedig om na te vors hoe amateurradio die ontwikkeling van radiowetenskap gevorm het en hoe amateurradio vandag toegang kan bied tot ‘n loopbaan in ingenieurswese of wetenskap.

Die kompetisie is tydens die Eskom Ekspo vir jong Wetenskaplikes, wat die afgelope week in Boksburg plaasgevind het, bekendgestel. Die gebeurtenis was ‘n groot sukses en het goeie blootstelling van amateurradio vir jongmense gegee. ‘n Volledige verslag oor die SARL se deelname sal volgende week op die SARL-webwerf sowel as die nuusbulletin beskikbaar wees.

Daar sal in twee verskillende ouderdomsgroepe meegeding word met die hoofprys in elkeen ‘n skootrekenaar en toebehore. Die twee groepe is onder 15 jaar en tussen 16 en 20 jaar.

Die lengte van die opstel is tussen 800 en 1200 woorde en dit kan in enige van die amptelike Suid-Afrikaanse tale geskryf word. Die sluitingsdatum is die 28 ste Februarie 2014 en moet in Word formaat per e-pos na youthweek2014@sarl.org.za gestuur word.

Die weninskrywing in elke kategorie sal tydens die SARL se jaarlikse konvensie op 12 April 2014 in Pretoria sy/haar pryse ontvang. Daar is tien ander pryse in elke kategorie en elkeen wat ‘n opstel indien sal ‘n sertifikaat ontvang.

Meer inligting en skakels na bronmateriaal sal vanaf 6 Oktober op www.hamradio.org.za beskikbaar wees.

SONSIKLUSRAAISELS

Voorspellings dat 2013 ‘n opswaai in sonaktiwiteit en geomagnetiese storms sal oplewer, was ‘n vals alarm. Om die waarheid te sê is die huidige Sonsiklus 24 van die swakstes die afgelope eeu. Amateurradio Newsline se Stephan Kinford, N8WB, kyk na wat wetenskaplikes te sê het:
Verlaagde sonaktiwiteit het tot kontroversiële vergelykings met die Maunder Minimum gelei. Die Maunder Minimum, ook bekend as die verlengde sonvlekminimum, is die naam wat gebruik word vir die periode wat rondom 1645 begin en aanhou tot ongeveer 1715 toe sonvlekke volgens waarnemers van daardie tyd uiters skaars was. Hierdie minimums stem glo ooreen met die koudste tydperk in die vorige millenium.

Giuliana DeToma, ‘n sonwetenskaplike by die High Altitude Observatory in Colorado meen dat hierdie ongewoon lae voorkoms in die jongste jare nie ‘n aanduiding is dat ons in ‘n Maunder Minimum ingaan nie, maar het bygevoeg dat navorsers nie kan verklaar hoe en hoekom die Maunder Minimum begin het nie en aldus nie die volgende een kan voorspel nie.

Ander kenners meen dat die afswaai met ‘n ander verskynsel, die Gleissberg-siklus verband kan hou. Hierdie siklus, genoem na Wolfgang Gleissberg, word gemeen is ‘n amplitudemodulasie van die 11-jaar Schwabe-siklus wat ‘n periode van swakker sonaktiwiteit omtrent elke eeu voorspel. As dit so is sal die son ongewoon stil wees gedurende die middel van die 2020’s. Aangesien wetenskaplikes nie kan verklaar waarom die Gleissberg-siklus plaasvind nie is die bewyse ten beste onbevestig. Die vaaghede rondom sonsiklusse duur voort.

KAN DIE SARL MET JOU KOMMUNIKEER?

Dit word al hoe duurder om papier deur die pos te stuur. Alhoewel dit soms onvermybaar is, verkies die SARL om e-posse of SMS'e te stuur.

Een of ander tyd sal die SARL ophou om voorsiening te maak vir amateurs sonder e-posadresse. Om gereed te wees daarvoor, doen nou voorbereiding deur 'n e-posadres te kry, al is dit by in Internet-kafee of op die rekenaar van 'n familielid of vriend.

Om te verseker dat jy boodskappe van die SARL af ontvang, voeg jou selfoonnommer en jou e-posadres by jou lidmaatskapbesonderhede op die SARL se databasis.

Om jou lidmaatskapstatus en jou skakelbesonderhede te kontroleer en op te dateer, gaan na die webadres wat aan die einde van die berig gegee word. Sou daar enige probleem met jou lidmaatskap wees, skakel met die adminkantoor admin@sarl.org.za of die sekretaris by secretary@sarl.org.za.
Die telefoonnommer van die adminkantoor is 011 675 2393.
Die webadres waar jy die besonderhede kan kontroleer is www.sarl.org.za/public/Membercheck.asp

KLUBNUUS

Geen klubnuus is gedurende die vorige week ontvang nie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die die swakste sonvleksikluspiek die afgelope 100 jaar onverpoos voortduur. Die verwagte sonaktiwiteitsvlak gaan laag bly met geen kanse vir ernstige sonfakkels nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 49.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees.

Besoek gerus die nuwe webtuiste h t t p://spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
2 Oktober - Laaste dag om vir die RTA in Kaapstad te registreer, gaan na www.sarl.org.za.
5 Oktober – Oos-Randklub se snuffelmark om 12:00.
17 Oktober - Radioamateureksamen.
31 Desember - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo, besonderhede verkrygbaar by www.amateurradio.org.za.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003